top of page

Toe ek ingestem het om by President Jacob Zuma se inhuldiging Saterdag in Pretoria te sing, het ek verwag daar sou kritiek wees, maar die agressie van die kommentaar wat ná die tyd gemaak is, is baie ontstellend.

 

Ek besef dis net ‘n klein groepie mense wat nog nie aanbeweeg het nie en nie besef hulle bly in ‘n demokratiese Suid-Afrika nie. Ek het die afgelope paar dae stil gebly, maar ek voel ek moet my kant van die saak stel. Ek is ‘n trotse Suid-Afrikaner. Ek het al baie in my lewe gereis en Suid-Afrika is altyd die plek waarna ek terugkeer omdat dit is waar my hart en siel is.

 

Die dinge wat op sosiale netwerke soos Facebook en Twitter ná my optrede Saterdag geskryf is, is skokkend.

Vir iemand om te skryf dat hulle wens my en Dunay se baba word dood gebore, is die laakbaarste ding wat enigiemand kan sê. Ek het kommentaar soos hierdie en ander negatiewe kommentaar verwyder want ek wil nie ander mense daaraan blootstel nie. Baie van my aanhangers is jonk en ek wil hulle beskerm teen vieslike haat soos hierdie.

 

Dunay het my Sondagoggend halfses wakker gemaak om te sê dat die reaksie op Facebook en Twitter op my optrede Saterdag is ontstellend. Sy het my aangeraai om nie eens daarna te kyk nie, maar ek moes. Dit was soos om ‘n gruwelfliek te kyk. Ek het nie enige kommentaar gelewer nie. Die enigste kommentaar wat ek wel gemaak het, was om te sê ek is ‘n man van God en dat Hy die enigste een is wat my kan oordeel. Wat mense van my dink, maak nie saak nie. Mense wat my werklik ken, weet waar my hart is. Ek wens vir almal die liefde wat ek elke dag ervaar. As ek deur my optrede Saterdag by die inhuldiging aanhangers verloor het, aanvaar ek dit. Mense met soveel haat in hulle harte is in elk geval nie mense met wie ek geassosieer wil word nie.

 

Dit was vir my ‘n eer om gevra te word om Afrikaans op die verhoog by die inhuldiging te verteenwoordig. Net so trots soos ek was toe ek in 2008 gevra is om deel van die Nelson Mandela 46664-konsert in Londen te wees, so trots was ek om Afrikaans by die inhuldiging te verteenwoordig. Mense moet besef dat Afrikaans genooi is om deel van die inhuldiging te wees. Dit wys ons het nog ‘n plek in Suid-Afrika. Een van my hoogtepunte was toe die groep The Soil, ‘n a capella groep van Soweto, “Stuur Groete aan Mannetjies Roux” gesing het. Afrikaans is nie hulle eerste taal nie, maar hulle het dit met soveel oorgawe gedoen – as Suid-Afrikaners! Ek was op daardie verhoog om my kultuur as ‘n Afrikaanssprekende Suid-Afrikaner te verteenwoordig. Ek was nie daar om vir die president of selfs die regerende party te sing nie, ek was daar as ‘n Suid-Afrikaanse kunstenaar wat die verhoog gedeel het met mede Suid-Afrikaanse kunstenaars in ‘n konsert vir alle Suid-Afrikaners. Ons is immers ‘n demokrasie en die konsert was ‘n goeie voorbeeld daarvan.

 

Politiek was nog nooit deel van my agenda nie en ek het nog nooit liedjies met politieke ondertone gesing nie. Ek wil egter die beste vir my land hê. Natuurlik besef ek ons het probleme, maar ek weet ook dat meeste Suid-Afrikaners saam wil werk om ‘n sukses van die land te maak. Aan mense wat sê ek het seker nog nooit misdaad eerstehands beleef nie, wil ek net sê julle geheue is baie kort. Ek is in 2006 én 2008 in my huis oorval. Ek is aan my hare rondgesleep, ‘n geweer is teen my kop gehou, ek is geskop en geslaan. Dit beteken egter nie dat ek dink alle swart Suid-Afrikaners is misdadigers nie. Dit beteken ook nie dat ek alle Suid-Afrikaners wat nie dieselfde velkleur as ek het haat nie. Inteendeel. Ek weet dat net soos blanke Suid-Afrikaners, wil swart Suid-Afrikaners ook in ‘n gemeenskap  sonder misdaad leef.

Suid-Afrika is ‘n land vir alle Suid-Afrikaners. Ek is ‘n trotse ondersteuner van die Afrikaanse kultuur en dit was nog altyd iets wat my na aan die hart lê. Ons moet positief wees en weet hier is ‘n toekoms as ons almal saamwerk. Hierdie is my land en die land waar ek wil hê my kinders in vrede moet bly. Aan almal wat my die afgelope paar dae ondersteun het – Suid-Afrikaners van oor die hele spektrum – baie dankie. Ek weet diep in my hart dat dié van ons wat saam wil werk om van Suid-Afrika ‘n nog beter plek te maak, is in die meerderheid. Ek sal deur alles nooit my liefde vir Suid-Afrika verloor nie.

 

Groete,

 

Kurt

bottom of page